Foreword
September 10, 2020
Nasionale Tesourie publiseer konsep belasting wysigings
September 10, 2020

Voorwoord

Click here for ENLISH

“Spring – a reminder of how beautiful change can truly be.”

Dis bykans onmoontlik om te glo dat ons alreeds aan die begin van ons lente-seisoen staan, veral met die berge wat tot onlangs wit van die sneeu gelê het. Daarmee saam moes die meeste van ons die laaste paar maande verskeie uitdagings die hoof bied en in die harwar verloor mens dikwels tred met tyd.

Sedert Maart 2020 toe Covid-19 in ons land pos gevat het, moes ons aanpas by ‘n ‘nuwe normaal’. Besighede regoor Suid-Afrika het voor groot uitdagings te staan gekom en Suid-Afrikaners het nog nooit vantevore só innoverend gedink en aanpassings gemaak ten einde hul besighede suksesvol deur die uitdagende en onseker tyd te stuur nie. Jy kan nou in die gemak van jou eie huis na ‘n virtuele opvoering van enige van ons land se topkunstenaars kyk. Fynproewerrestaurante lewer ‘n driegangmaaltyd by jou huis af, gekomplimenteer met die perfekte wyn nou dat die alkoholverbod (uiteindelik!) opgehef is. Die toerismebedryf het blitsvinnig aangepas deur die nodige voorsorgmaatreëls te implementeer en sedert inter-provinsiale reise weer toegelaat word, dui alle aanduidings daarop dat veral die Wes-Kaap ‘n besonder besige seisoen gaan beleef.

Die Suid-Afrikaanse sakewêreld beleef tans self ‘n winterseisoen met sekere industrieë wat stelselmatig die lig begin sien. Maar, so seker as wat ons kan wees dat geen seisoen vir ewig duur nie, net so seker kan ons wees dat enige negatiewe siklus weer opgevolg sal word met ‘n positiewe siklus. Mag elkeen van ons kliënte en kennisse wat nou hier lees, ‘n besonder goeie lenteseisoen (letterlik & figuurlik gesproke) beleef waartydens elkeen opnuut die prag van verandering sal ervaar.