ASL – Aanhouwen Gholfdag 2014
April 11, 2014
New electronic audit confirmation process
April 11, 2014

KANSA “Relay for Life” – ASL was daar

B5

KANSA (die Kankervereniging van Suid Afrika) se “Relay for Life” is `n fondsinsamelingsprojek vir die stryd teen kanker wat deel is van ‘n internasionale beweging. Dit betrek mense wat bereid is om tyd en energie te bestee aan `n opwindende gebeurtenis – `n aand waarop mense wil veg teen die siekte met die HOOP dat almal wat die stryd teen kanker verloor het, nooit vergeet sal word nie, dat almal wat besig is met die stryd teen kanker ondersteuning sal kry, dat almal wat die stryd teen kanker oorwin het altyd dankbaar sal wees, en dat die mediese wetenskap kanker eendag finaal sal uitroei. Dit is ‘n geleentheid waar mense in gemeenskappe oor die land heen – jonk en oud – byeenkom om op prettige wyse erns te maak van die stryd teen hierdie gevreesde siekte.

Spanne van tussen 10 en 15 lede skryf in vir die deurnag-geleentheid. Spanlede neem beurte om om ‘n baan te stap of te hardloop. Daar moet te alle tye ‘n lid van die span wees wat om die baan beweeg.  Dis `n nag wanneer daar nie geslaap word nie en wat ook kanker simboliseer deurdat kanker ook nooit “slaap” nie.

Op 8 Februarie 2014 het twee spanne van ASL deelgeneem aan die “Relay of Life” wat by die Hoërskool Hottentots-Holland aangebied is.

Vir ons het die geleentheid reeds die middag afgeskop toe al ons eerstejaar-mansklerke, asook Pieter Aucamp, hul hare baie kort geskeer het. Elizabeth Marais was die enigste dame wat braaf genoeg was om haar hare aan die kante te skeer.

Dit was `n baie gesellige aand en nag – vol vermaak met musiek, uitkamp, deelname aan aktiwiteite en ‘n gesellige kuier saam met vriende en kollegas. Die aktiwiteite wat plaasgevind het was beslis iets om te onthou. Gerrit Nieuwoudt en Stephan Smit het ASL se naam hoog gehou met die wiel- en sokker-blinddoekkompetisie.

DeWalt van der Merwe het sy belewenis van die geleentheid só opgesom: “Ek is nuut in die Kaap en dit was wonderlik om te sien hoe die gemeenskap omgee vir mekaar en almal saamgewerk het om R100 000 in te samel vir die stryd teen kanker. My tannie het self kanker gehad en is ‘n oorwinnaar, dus was die hele aand vir my baie besonders.“

Vir meer van ons by ASL met familielede wat kanker het was dit ‘n besondere geleentheid.   Baie van ons het ook met deernis gedink aan familie en vriende wat nie die kankerstryd oorleef het nie. Maar so ook het baie van ons met dankbaarheid gedink aan familielede wat kanker oorwin het.

ASL se deelname aan “Relay for Life” was voorwaar vir ons ‘n voorreg.