Die SAID se jongste belastinggids oor die aftrekking van mediese uitgawes lê streng en omvattende riglyne neer vir mediese uitgawes wat voortaan as belastingaftrekbaar geag sal word. Hiervolgens sal ’n mediese uitgawe slegs vir aftrekking oorweeg word indien dit aan ’n geregistreerde mediese diensverskaffer, verpleegsorginrigting, hospitaal, verpleegkundige of apteek vir professionele dienste of voorgeskrewe medikasie betaal is. Sodanige uitgawe moet aangegaan gewees het in belang van die belastingbetaler self, sy of haar eggenoot of kind, of enige afhanklike (indien daardie afhanklike as sodanig deur ’n mediese fonds aanvaar is). Daarby mag die uitgawe nie van ’n mediese fonds verhaalbaar wees nie, en sal uitgawes wat deur ’n werkgewer namens die belastingbetaler aangegaan is, slegs vir aftrekking oorweeg word indien dit gelei het tot die ontvangs van ’n belasbare voordeel deur die belastingbetaler. Die SAID-vereistes aangaande bewysstukke vir mediese is nou ook strenger en meer gedetailleerd, en ons raai kliënte sterk aan om hulle op die hoogte hiervan te bring.