Performance measurement
May 4, 2012
Gesonde balans word aangemoedig
June 13, 2012

Groot suksesse van driemanskap bring blydskap

Die suksesvolle akademiese resultate van drie van ons werknemers in die pas afgelope Kwalifiserende Eksamens ter kwalifisering as Geoktrooieerde Rekenmeester, het groot blydskap gebring.

Johan Coetzee, ouditsenior, het einde Februarie sy Finale Kwalifiserende Eksamen geslaag en sodoende as Geoktrooieerde Rekenmeester gekwalifiseer.  Johan se akademiese pad het via Paul Roos Gimnasium, die Universiteit Stellenbosch en Unisa geloop, en hy het sy leerklerkskap by BGR Jacobs en Vennote te Worcester voltooi.

Stephan Smit, ‘n boorling van Piketberg, en Danie van Zyl, van Porterville, het in Februarie vanjaar by ons aangesluit as leerlingrekenmeesters na voltooiing van hul B Rek Hons grade aan die Universiteit van Stellenbosch. Hul het einde Maart ook die goeie tyding ontvang dat hul suksesvol was in hul Eerste Kwalifiserende Eksamen, ter kwalifisering as Geoktrooieerde Rekenmeester.

Johan bring ook besondere insig en ervaring na ons firma rakende die uitvoer van onafhanklike oorsigte, oftewel “independent reviews”, soos ingestel met implementering van die nuwe Maatskappywet op 1 Mei 2011.

Stephan en Danie het aan die begin van die jaar met hulle leerklerkskap by ons begin en is werksaam in die ouditafdeling.

Ons hoop dat dié drie se suksesse ‘n voorskou was van die akademiese suksesse van ons ander ingeskrewe studente in 2012!