Personnel news
February 25, 2015
Important SARS dates for 2015
February 25, 2015

ASL se deelname aan Cansa Relay for Life

Die jaarlikse CANSA Relay for Life, wat landswyd in verskillende gemeenskappe gehou word, is op Saterdag 7 Februarie ook vir die Helderberg-gemeenskap aangebied en, soos telkens in die verlede, het ASL ook daaraan deelgeneem.

Die CANSA Relay for Life is deel van ‘n internasionale beweging wat daarop ingestel is om diegene wat kanker oorleef het en die gemeenskappe wat vir hulle omgee, te verenig in die stryd teen kanker en om eer te betoon aan diegene wat deur kanker geraak is. Die geleentheid is vanjaar by Hottentots Holland Hoërskool gehou en het behels dat aflosspanne deurnag 12 ure aaneen om die rugbyveld stap.

Vanjaar se tema was toegespits op opbouende flieke en ASL se keuse was die komedie-avontuur Up. Ons span het bestaan uit 38 personeellede wat entoesiasties deelgeneem het en daar het deurgaans ten minste een spanlid gestap.

Die aand was gevul met betonings van dankbaarheid vir mense wat die stryd oorwin het, ondersteuning vir kankerlyers wat tans behandeling ontvang en herinneringe aan geliefdes wat verloor is. Kerse is ná sonsondergang rondom die veld aangesteek en het heelnag gebrand ter gedagtenis aan hierdie mense.

Daar was dwarsdeur die nag musiek, speletjies en verkope van allerhande lekkernye. Ons het springmielies, spookasem, kolwyntjies en ysies verkoop om geld in te samel ten bate van die stryd teen kanker. Die stalletjie wat verreweg die meeste aftrek gekry het, veral na middernag, was die “barista”-koffiekroeg . Om die gees en energievlakke optimaal te hou is daar heerlik gekuier op kampstoele om ‘n boks vol paaseiers. Die ouer garde het tente, slaapsakke, kussings en sommige tot matrasse saamgebring om te verseker dat hulle tussendeur ‘n klein ruskansie kon neem. Daar is ook ‘n sakresies gehou waarin Leonard Burger van ons rekeningkunde-afdeling, die eerste prys behaal het.

Ons deelname aan vanjaar se CANSA Relay for Life was vir almal ‘n verrykende ervaring wat ons weer eens laat besef het hoe belangrik dit is om alles in die stryd te werp om die teisterende kankersiekte te bestry en ons geïnspireer het om volgende jaar weer so te maak.

View more photos here.