Belasting op buitelandse indiensnemingsinkomste (“Expat tax”)
June 3, 2019
Employee News
August 6, 2019

Personeelnuus

Jacques Potgieter word Assosiaat

Dit is met groot opgewondenheid dat ons hiermee bekend maak dat Jacques Potgieter met ingang vanaf Julie 2019 bevorder is tot Assosiaat binne die ASL Groep.

Jacques het sy klerkskap in 2016 suksesvol voltooi by ASL. Daarna het hy opgetree as Assistent Ouditbestuurder waarna hy bevorder is tot Bestuurder van Kliënteverhoudinge. In laasgenoemde rol was Jacques, Pieter Aucamp se regterhand en het hy ‘n kardinale rol gespeel in die bou en handhawing van kliënteverhoudinge en dus verseker dat dienslewering op die hoogste standaard geskied en gehandhaaf word. In hierdie hoedanigheid het Jacques hom ook reeds onderskei as ‘n persoon wat kliënteverhoudinge en dienslewering hoog ag en hom vereenselwig met ASL se waardes.

Die impak wat Jacques gemaak het in hierdie rol, was onder andere vir ons, die motivering agter sy bevordering. Jacques se rol voortaan sal veral gefokus wees op ASL Trust se kerndienste asook verwante dienste binne die ASL Groep en ook om die kontinuïteit in bestaande verhoudinge te verseker. Ons wens Jacques baie voorspoed toe in sy nuwe rol en glo dat dit ‘n belangrike hoeksteen sal vorm in die uitbou van ASL en ons gewaardeerde kliënteverhoudinge.

ASL Advisory se entrepreneurspan is bevoorreg om sedert middel Junie vir Frances Burger as Regskonsultant in ons geledere te hê. Frances het haar BCom Regte (2011) en LLB (2013) aan die Universiteit van Stellenbosch (US) verwerf. Sy is toegelaat as Prokureur en is tans besig met die afhandeling van haar Meestersgraad in Belasting, ook aan die US.

Na voltooiing van haar klerkskap en registrasie as Prokureur, het Frances bykans drie jaar as Belasting- en Regsbestuurder in die finansiële dienste sektor gewerk. Ons sien uit na wat Frances in haar nuwe posisie by ASL Advisory gaan vermag.

Louise Lackay het in Mei by die finansiële afdeling aangesluit as Krediteureklerk en lewer reeds ‘n waardevolle bydrae in hierdie afdeling. Sy het ‘n dogter wat tans aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.

Abeedah Timoor is sedert Junie ‘n raakvatter in die belastingafdeling. Abeedah, wat voorheen in die korporatiewe wêreld gewerk het, is aangestel as Belastingnakomingsbeampte, met ‘n fokus op kliëntediens in statutêre administrasie. Sy is trots op haar betrokkenheid by verskeie gemeenskapsprojekte, deur die ondersteuning van sosiale verwantwoordelikheidsinisiatiewe in haar vrye tyd.

Dit spyt ons om aan te kondig dat Cornel Roux, Korporatiewe Beheerbeampte in die maatskappy-sekretariële afdeling, ASL se diens verlaat. Cornel, ‘n ma van twee pragtige kinders, het ‘n posisie aanvaar wat meer buigsaamheid in die hantering van haar skedule kan bied. Ons wens Cornel alle voorspoed vir die toekoms toe. Enige navrae kan voortaan direk aan Arné Bester (arne@asl.co.za) in die afdeling gerig word.

Larochelle Sephton, ASL Groep se Digitale Rekeningkundebestuurder, het ‘n posisie aanvaar in Amsterdam, waar sy vir eers haar loopbaan gaan voortsit. Ons beste wense vergesel haar. Skakel gerus die relevante verhoudingsdirekteur vir enige navrae.

Indien u navraag wil doen ten opsigte van die inhoud van hierdie artikel, kontak gerus vir Amorei Engelbrecht (amorei@asl.co.za) of u verhoudingsdirekteur.