Trusts and the registration for income tax of beneficiaries
March 2, 2016
Personeelnuus
April 13, 2016

ASL’ers stap vir kanker!!

Die jaarlikse Helderberg CANSA Relay for Life het Saterdagaand 6 Februarie plaasgevind, oudergewoonte by Hoërskool Hottentots-Holland, en ASL het gaan saamstap … met ‘n waterballon of twee!

VIER, ONTHOU, VEG TERUG!!! Dis die leuse van Relay for Life wat dié jaar hul 10de bestaansjaar in Suid-Afrika vier. Relay for Life is die grootste kankerfondsinsamelingsgeleentheid in die wêreld en bied vir almal die geleentheid om deel te neem aan die stryd teen kanker in samewerking met lande se nasionale kankerverenigings (in ons geval CANSA). By dié geleentheid word mense wat kanker het bemoedig, word daar teruggedink aan diegene wat ons weens kanker verloor het en word die lewens van mense wat kanker oorwin het gevier, terwyl daar vir 12 ure deur die nag om ‘n veld gestap word!

Dié jaar se tema was sport, en ASL – wat mal is oor pret en water – het WATERSPORT gekies. ‘n Rekordgetal van 43 lede is ingeskryf vir ASL se drie spanne. 55 Spanne en 39 organisasies van die Helderberg-omgewing het die geleentheid bygewoon en daar is ongeveer R115 000 vir CANSA ingesamel.

In die loop van die aand is daar deelgeneem aan verskeie spanaktiwiteite (met drie wisseltrofees op die spel) terwyl ons vermaak is deur plaaslike kunstenaars. ASL’ers het al sommer vroeg gewys hoeveel pret ons kan hê deur mekaar met waterballonne te gooi  en “touchies” te speel. Aan die einde van die aand het ASL se stalletjie algeheel tweede gekom en ons is baie trots op ons aflosspan wat weggestap het met die eerste prys! Baie geluk aan Ananda van Dyk, Ettienne Botha, Jan Loggenberg en Ruan Mouton.

ASL het ook vier fondsinsamelingsprojekte aangepak om addisionele geld in te samel vir die stryd teen kanker. Boereworsrolle, spookasem en lootjies vir ‘n Skoonliefprys ter waarde van R900 is vooraf en by die geleentheid verkoop. By die Relay kon kinders (en ‘n paar volwassenes) ook veerpyltjies gooi om moontlik met ‘n paar ASL-sonbrille weg te stap. Baie dankie aan Suzanne Potgieter wat die Skoonliefprys geborg het en aan van ons kliënte wat donasies gemaak het. Die wenner van die prys was ASL se beeldskone ontvangsdame Monique Muller-Abrahams – baie geluk!!

Die deurnagaktiwiteite simboliseer die stryd teen kanker en was vir ASL se personeel en veral diegene wat al op die een of ander wyse deur kanker geraak is, ‘n besonderse geleentheid. Dit is voorwaar vir ASL ‘n voorreg om jaarliks aan die Helderberg CANSA Relay for Life deel te neem.