SARS: The Importance of supporting documentation
August 3, 2015
Promotion of Access to Information Act (PAIA) – Compliance with changes in legislation
September 2, 2015

Personeelfunksie: 30 Julie 2015

Die tradisionele halfjaarlikse personeelfunksie – ‘n geleentheid in die dagboek waarna elke ASLer met groot afwagting uitsien –  het hierdie jaar op Donderdag 30 Julie plaasgevind.  Dié jaarlikse instelling het ‘n drieledige doel: eerstens om ASL se verjaarsdag op 1 Augustus te vier, tweedens om personeel te bedank vir hul werk die voorafgaande ses maande en derdens om personeel te motiveer vir die volgende ses maande waar belastingsperdatums hoogty vier.

Soos te wagte in die middel van die winter was dit ‘n baie koue en ‘n nat aand, maar dit het beslis nie die geesdrif gedemp nie. Thirsty Scarecrow, ‘n restaurant by die Mooiberge Padstal geleë op die R44 na Stellenbosch, het vroegaand reeds besef dat die term “pencil pushers” geensins betrekking het op die ASL-personeel nie.

Die aand het afgeskop met ‘n verwelkomingswoord van Arnold wat gevolg is met ‘n bierproe, aangebied deur die eienaar van die restaurant.  By veral sommige personeel het die proeëry groot byval gevind en dis waarskynlik veilig om te sê dat dit bekende terrein was waarop hulle beweeg het.  Vir die res was die volksvreemde smake presies dit – vreemd!  Hierna het almal saam gekuier en gesmul aan ‘n verskeidenheid pizzas en nagereg.

Soos by vorige geleenthede was dit weereens ‘n heerlike aand van gesellige verkeer van kollegas, wat eintlik voel soos familie.  Dit was wel ‘n koue aand maar ons is met warm harte huistoe, vol moed en entoesiasme vir die laaste helfte van die jaar.