VAT: Four-monthly VAT (Category F) vendors changed to bi-monthly
May 7, 2015
Bank confirmations: ABSA and RMB bank accounts are now live on Confirmation.com
May 7, 2015

ASL-Jagnaweek

A3
ASL se geloof in die bevordering van ‘n gesonde balans tussen werk en ontspanning het oor die naweek van 20-23 Maart 2015 op nog ‘n manier gestalte gevind met die geboorte van die ASL-Jagnaweek.

Vyf spanne jagters, een selfs met ‘n dame in hul geledere, is met gekamoefleerde klere, tuisgemaakte skietstokke, veldskoene, wyebandhoede en baie entoesiasme die Vrydag hier weg op pad na die eindbestemming, Boeteka, net buite Beaufort-Wes. Van die ouens was so goed gekamoefleer dat dit gelyk het asof van die voertuie hulself bestuur!

Die jagveld is Saterdagoggend met ywer aangepak en die jagters se vernuf en verbeelding is behoorlik getoets ten einde die bokke te uitoorlê. Taktiek het wesenlik verskil. Sommige spanne het besluit dat die beste opsie is om aanvanklik die bokke te agtervolg en dan volspoed agterna te sit sodra die bokke agterkom dat hulle bekruip word. Ander spanne het die teenoorgestelde gedoen deur hulself baie weerloos te laat lyk (om die bokke te laat dink dat die jagters die eintlike aas is) en dan toe te slaan sodra die bokke op hulle afstorm.

Dan was daar ook enkele jagters waarvoor die idee van mislukking so intimiderend was dat die geweerslotte aspris gesaboteer is (goeie verskoning om te bly mis skiet.) Daar was ander wat gereken het die beste manier om ‘n bok nader te lok is om so hoog as moontlik te gaan staan sodat al die bokke jou duidelik kan sien en dan jou arms te swaai. Een jagter het stellasies gebou en loopgrawe gegrawe onder die voorwendsel dat hy gemaklik wil skiet, maar vermoed eintlik het hy dalk gedink het dis oorlog en dat hy moet wegkruip teen die vele skote wat oor die veld geloei het.

Ten spyte van die baie skote (en ons jagters se duidelik briljante jagtegnieke) was sukses in sommige gevalle maar beperk en teen skemer moes van die jagters maar sonder sukses terugklim op die bakkies. Jagstories en jagrealiteit is egter twee verskillende dinge en soos ‘n 100-meter skoot eers ‘n 200-meter skoot en toe ‘n 400-meter skoot geword het om die boma-vuur, is alle teleurstellings vergeet of met die lekker saamkuier in ‘n groot suksesverhaal omskep.

Dié genotvolle uitstappie het op ‘n besondere manier die goeie gees wat onder ASL-ers heers, bevestig en daar is op pad terug die Sondag reeds uitgesien na en meesal beplan vir die volgende jag.

CLICK HERE TO VIEW MORE PHOTOS