Deadlines for individuals and administrative fines
January 30, 2019
How to succeed as an entrepreneur
February 28, 2019

Bevorderings

Reinhard Sieberhagen is met ingang 1 Januarie 2019 bevorder tot die posisie van assosiaat.  Reinhard het sy SAIGR klerkskap aan die einde van 2016 suksesvol voltooi by ASL en het daarna onder meer die posisies van assistent bestuurder asook bestuurder in ons ouditafdeling vervul.

Gedurende hierdie tyd het Reinhard se fyn oog vir detail, tegniese uitnemendheid en die sukses waarmee hy kliënte verhoudinge gebou en gehandhaaf het vir ons uitgestaan en was die besluit oor sy bevordering een wat ons met ‘n geruste hart en groot opgewondenheid kon neem.

GJ Kemp het sy SAIGR klerkskap aan die einde van 2018 by ASL voltooi en is bevorder tot die posisie van bestuurder in ons ouditafdeling.  GJ is afkomstig van Brey in Noordwes en het sy studies voltooi aan die Noordwes Universiteit (Potchefstroom kampus).

Elandré Janse van Rensburg het ook einde 2018 sy SAIGR klerkskap by ASL voltooi en beklee met ingang Januarie 2019 die posisie van bestuurder in ons ouditafdeling.  Elandré is afkomstig van Kroonstad en het sy studies voltooi aan die Noordwes Universiteit (Potchefstroom kampus).

Morgan Gregory het na die voltooiing van sy SAIGR klerkskap by ASL einde verlede jaar aangesluit by ASL Advisory as rekeningkundige konsultant (“accounting consultant”).  Morgan het sy studies voltooi aan die Universiteit van Stellenbosch.

Suné Claassens wie einde verlede jaar haar SAIPA klerkskap voltooi het, is bevorder tot die posisie van bestuurder in ons rekeningkundige afdeling.  Suné is ook ‘n oud-Matie en ons is opgewonde om haar as deel van ons bestuurspan te verwelkom.

By ASL is die ontwikkeling van ons personeel vir ons geweldig belangrik.  Ons glo dat bogenoemde getuig van ons verbintenis tot organiese groei en ons personeel  filosofie.  Ons wens hierdie personeel net die beste toe vir die nuwe hoofstukke in hul onderskeie loopbane by ASL.

Nuwe personeel

Dirk du Toit het in Januarie by ons aangesluit as bestuurder in ons rekeningkundige afdeling. Dirk is afkomstig van die Ouplaas-distrik tussen Bredasdorp en Swellendam en het sy skoolloopbaan by Hoër Landbouskool Oakdale voltooi. Hy het sy B.Comm Bestuursrek-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, waarná hy sy klerkskap voltooi het by SDK Chartered Accountants (SA). Dirk het ’n passie vir die natuur en buitelewe.

Amorei Engelbrecht het in Desember 2018 by ASL aangesluit as bestuurder in ons menslike hulpbron en ontwikkeling afdeling. Amorei kom oorspronklik van die Boland en het haar M.Comm Bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, waarná sy ook haar internskap om as bedryfsielkundige te registreer, voltooi het.

Lize van Schaik het gedurende 2018 by ons aangesluit as finansiële bestuurder.  Lize is woonagtig in Somerset-Wes en is die trotse ouer van drie pragtige kinders.

Izell van Dyk  het aan die einde van 2018 by ASL aangesluit as debiteure klerk. Izell, wat voorheen by WAPPoint gewerk het, kom oorspronklik van Natal en is sedert 2015 ‘n trotste Kapenaar.

 SAICA-leerlingrekenmeesters

ASL het agt nuwe SAICA-leerlingrekenmeesters in Februarie 2019 verwelkom wat in ons ouditafdeling werksaam sal wees.

Chanté Muller is oorspronklik van Pretoria en woon tans in die Paarl. Sy het haar BRek-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Sy het reeds haar eerste jaar van klerkskap voltooi in Pretoria, maar het te veel verlang na die natuurskoon en het besluit om terug te verhuis na die mooie Kaap. Sy beskou haarself as ’n koffie-verslaafde en mense-mens.

Daniëlle Cronje kom van Jacobsdal. Sy het haar BRek Forensies-graad, gevolg deur Finansiële Rekeningkunde (HONS), aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) behaal. Sy is ’n goeie skut en is altyd ywerig om ’n nuwe uitdaging aan te pak.

Darryl Burgess geniet basies enige tipe sport. Hy ondersteun Manchester United in sokker en die Stormers in rugby.  Hy het sy BRek-graad by die Universiteit Stellenbosch verwerf, maar kom oorspronklik van Boksburg.

Doné Barrie het groot geword op ’n plaas in Standerton, waarná hulle verhuis het na Hartbeespoort. Sy het haar B.Comm Rekeningkunde en B.Comm Finansiële Rekeningkunde (HONS) aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) behaal.

Leandri Scholtz het haar BRek-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.  Sy is oorspronklik van die Kaap en ‘n gesoute noodhulpbeampte wat onder andere by Maties Rugby betrokke was.

Nicola Janse van Rensburg het groot geword in Rustenburg. Sy het by die Universiteit Stellenbosch studeer, waar sy haar BRek-graad voltooi het. Sy geniet interessante kossoorte en is ’n foto-entoesias.

Simoné Bosch, ook van Kaapstad, glo 2019 is háár jaar om geleenthede aan te gryp. Sy het haar BRek-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal.

Francois Botha is afkomstig van Graaff-Reinet en het sy BRek-graad, asook sy B.Comm Bestuursrek (HONS) aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Hy het tydens 2014 ’n landbou-internskap in die VSA voltooi deur Ohio University.

SAIPA- en CIMA-eerstejaars

ASL het ook agt nuwe SAIPA- en CIMA-leerlingrekenmeesters verwelkom in Februarie 2019 wat in ons rekeningkundige afdeling werksaam sal wees.

CP Kemp volg in sy broer, GJ, se voetspore en het ook sy loopbaan by ASL begin. Hy het groot geword op ’n plaas in die Bray-distrik in Noordwes, en het Bcomm Bestuursrek studeer aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).

Jana Stanvliet kom van Stellenbosch, en het op haar tuisdorp BComm Bestuursrek studeer. Sy hou van lees en om tyd saam met vriende te spandeer.

Jason Botha is van Somerset-Wes en het sy B.Comm Bestuursrek (HONS) aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy is gretig om te leer en sien uit na die uitdagings van klerkskap.

Johannes Engelbrecht, van Durbanville, se droom om op Stellenbosch te studeer het ook ’n realiteit geword. Hy het sy B.Comm Bestuursrek (HONS) in 2018 voltooi.

Ludolph Hough het hoofsaaklik groot geword in Pretoria maar het hy tydens sy kinderjare vir twee jaar in Ivoorkus, asook twee jaar in Ghana gewoon. Hy het sy B.Comm Bestuursrek (HONS) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Nadine Davids van Strand, geniet die buitelewe. Sy het B.Comm Bestuursrek studeer op Stellenbosch en sien uit om deel te word van die ASL-familie.

Sean Knipe van Douglas, het sy BComm Bestuursrek (HONS) aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) behaal. Hy beskou dit as ’n voorreg om sy loopbaan by ASL te begin.

Tehan Smit wat ook sy BComm Bestuursrek (HONS) by die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) voltooi het, kom oorspronklik van George. Hy kom maklik en vinnig met mense oor die weg en sien uit om almal by ASL beter te leer ken.

Trouklokkies

Om te trou is nie perdekoop nie maar nietemin was verskeie verlowings en troues die afgelope paar maande gevier. GJ Kemp en Vernanda Pohlmann, Tiaan Jordaan en Deline van Ieperen, Keagan en Bernine de Kock, asook Margaret Gladile en David Dede Khanzi, het aan die einde van 2018 die knoop deurgehaak.

Suné Claassens en Nico Lourens, Lana Keulder en Chris Venter, Silja Kiesling en Johan Wiid, asook André van Dyk en Myrtle Erasmus, het verloof geraak.

Ons wens vir al die paartjies baie jare se liefde en geluk toe.

Die ooievaar maak toe ook ‘n draai

ASL wens Don en Retha van Blommestein voorspoed toe met die verwelkoming van hul babadogtertjie,  Stella. Mag sy net liefde en vreugde tot julle gesin toevoeg.

 

ASL studies

ASL wens die volgende personeel geluk met die suksesvolle voltooiing van hul studies en eksamens:

Morgan Gregory, Dirkie Truter, Lana Keulder en Natasha Britz het hul 2018 APC eksamens van die SAIGR geslaag.

Duncan Brink het ook in 2018 sy BRek (HONS) voltooi deur UNISA.

Suné Claassens, Pieter Moelich, Ananda van Dyk en Marice Randall het hul 2018 PE-eksamens van SAIPA geslaag.

Indien jy sou belangstel in ‘n opwindende loopbaan by ASL, stuur gerus vandag nog jou kort, bondige CV aan hr@asl.co.za.