New Employees | ASL 2018
February 5, 2018
Budget Speech summary
March 7, 2018

Begrotingsrede opsomming

Op Woensdag 21 Februarie 2018 was alle oë op die Minister van Finansies in die Parlement, waar hy sy begrotingsrede gelewer het. Dit het die laaste paar maande duidelik geword dat slegte nuus aan die orde van die dag sou wees aangesien belastingstygings nie net verwag is nie, maar onvermydelik gelyk het.

Dit was dus nie verbasend dat die BTW-koers verhoog is tot 15% nie. Om die uitwerking wat die styging op die armste van die armes sal hê, teen te werk, is die huidige nulkoersbelasting op basiese voedselprodukte (soos mieliemeel, bruinbrood en rys) behou en is maatskaplike toelaes verhoog met ’n marge hoër as inflasie. Die effektiewe datum vir die verhoging van die BTW-koers is 1 April 2018.

Ander hoogtepunte sluit in:

  • Die algemene brandstofheffing sal met 22 sent per liter styg, terwyl die Padongelukfondsheffing met 30 sent per liter sal styg (effektief 4 April 2018).
  • Boedelbelasting sal van 20% tot 25% styg vir boedels oor R30 miljoen (effektief 1 Maart 2018).
  • Skenkings van meer as R30 miljoen sal teen 25% belas word (effektief 1 Maart 2018).
  • Aksynsbelasting op tabakprodukte sal met 8,5% styg, en dié op alkohol tussen 6% en 10% (effektief 1 Maart 2018).
  • Toename in die ad valorem-aksynsbelastingkoers op luukse goedere (byvoorbeeld motors en slimfone) van 7% tot 9% (effektief 1 April 2018).
  • Verhogings in die plastieksakheffing, die belasting op motorvoertuiguitlaatgasse en die heffing op gloeilampe, ten einde omgewingsvriendelike keuses te bevorder.
  • ’n Effense verandering in belastingkoerse vir individue om blokkruiping te akkommodeer, maar slegs vir die laer inkomstebelastingkategorieë, wat tot gevolg het dat die primêre belastingdrempel tot R78 150 in 2018/19 (2017/18: R75 750) verhoog.
  • Mediese belastingkrediete sal van R303 tot R310 per maand verhoog vir die eerste twee begunstigdes en van R204 tot R209 per maand vir die oorblywende begunstigdes.

Die lys is nie volledig nie. U is welkom om ASL se elektroniese belastinggids van ons webwerf af te laai KLIEK HIER.

Die toename in die BTW-tarief sal uitdagings vir sommige sake-eienaars inhou, aangesien die tydsberekening van lewering vir sekere transaksies kompleks kan wees. Indien u enige vrae het, kontak ons asseblief vir bystand.