ASL Ladies’ Evening – 26 October 2017
November 2, 2017
Is dit steeds moontlik vir ’n besigheid om ’n handelsnaam anders as sy geregistreerde naam te gebruik?
February 2, 2018

ASL Damesaand – 26 Oktober 2017

 
“Daar’s ’n plek wat ek van weet
sonder sorge sonder pyn sonder leed
die pad daarheen is ongekaart
die reis daarheen is sonder vaart
en daar is rusplek langs die pad”
– Coenie de Villiers

 Vir die derde agtereenvolgende jaar, het die ASL Damesaand in Oktober, ter ondersteuning van  borskankerbewustheid, plaasgevind op die pragtige Roseberg-plaas buite Stellenbosch.  Diegene wat reeds een of meer van hierdie geleenthede bygewoon het, sal met ons saamstem dat dit bykans onmoontlik is om ’n mooier plek te kry om die funksie aan te bied.

Na maande se beplanning het 26 Oktober aangebreek, seker een van die koudste en natste dae van hierdie jaar!  Nie noodwendig gunstige toestande vir ’n funksie wat in ’n bedouin tent aangebied word nie, maar nog steeds is die reën ontsettend welkom in die huidige droogtetoestand wat ons tans ervaar.  Daar is inderhaas geskarrel om gasverwarmers te huur en 120 kombersies aan te koop, om al ons gaste teen die ergste koue te beskerm.

Met die aankoms is die gaste getrakteer op ’n verwelkomingsdrankie en ’n verskeidenheid brode en kase.  Hierna het almal hulle sitplekke ingeneem, en het Lidien Ludik, die seremoniemeesteres, die gaste verwelkom.  ’n Smaaklike hoofgereg het gevolg en die ASL-klerke, wat weer as kelners opgetree het, het seker gemaak dat almal se glasies gevul is, voor die vertoning deur die gaskunstenaar begin het.

Ons was besonder bevoorreg om hierdie jaar vir Coenie de Villiers as gaskunstenaar te kon kry.  Sy uitmuntende klavierspel en treffende lirieke het telkemale die gaste in vervoering gehad, en ook ’n paar trane laat afvee.  Sy vertoning van ’n uur was te vinnig verby en ons sou vir baie langer nog na hom kon luister. Die vertoning is afgesluit deur ’n onvergeetlike duet deur Coenie en Lidien, met Amanda Strydom se “Ek loop die pad”.  Na die vertoning kon die dames heerlike kaaskoek, met ’n verskeidenheid van sjokolades en nougat geniet.  Die koffiestalletjie het ook groot aftrek gekry, en het die heerlike nagereg perfek gekomplementeer.

Ons het hierdie jaar ’n geslote veiling van verskeie spogitems gehad, om fondse in te samel vir Kansa, en die dames het hierdie inisiatief baie goed geondersteun.  Die aand het verby gesnel en na die nagereg het die gaste stadig begin huiswaarts keer.  Terugskouend beskou, het die koue weer beslis ’n groot rol gespeel om daardie ekstra tikkie warmte en geselligheid aan die aand te verleen.  Coenie het immers die gaste bedank vir die feit dat hulle ’n baie aangename gehoor was en “stil gebewe” het.

Baie dankie aan elke gas se ondersteuning en bywoning van die aand.  Voorwaar ’n groot sukses op ASL se 2017-kalender.

Ons is baie dankbaar teenoor Alet Morkel van die Roseberg-plaas vir die beskikbaarstelling van haar fasiliteite, en ook vir haar en Chris van Rhyn  se besonderse bydrae om die aand ‘’n groot sukses te maak.  Sonder hulle sou die aand nie moontlik gewees het nie en soos elke jaar, was die dekor en die spesiale gevoel van die aand onoortreflik. ’n Spesiale woord van dank gaan ook aan die volgende persone en besighede wat die aand ondersteun het – hetsy in die vorm van borge of skenkings:

  1. Avec Mari Catering (Marilou Marais)
  2. Barker & Quin tonic water
  3. Baruch Gastehuis
  4. Boplaas Wynlandgoed
  5. Branded Image
  6. Carmien Tee
  7. Carpe Diem
  8. Charité Volkwyn
  9. Chikadee Décor Design Life
  10. Coenie de Villiers
  11. Creative Cuisine
  12. CUM Books
  13. Distell
  14. Grootbos Private Nature Reserve
  15. Ina Paarman
  16. Kleine Zalze wyne
  17. Leka Ice
  18. Lidien Ludik
  19. Lords Wynlandgoed
  20. Media24 / SARIE Tydskrif
  21. PEPhome
  22. Porchie
  23. Purely Porcelain
  24. Skoonlief (Suzanne Potgieter)
  25. Willow Creek

Besoek gerus die skakel HIER om die foto’s van die geleentheid te besigtig.