Ring-fencing of losses (Section 20A) for natural persons
June 21, 2018
Staff news
July 30, 2018

Personeelnuus

Nuwe werknemers

Op 23 April 2018 het ons vir Arné Bester in ons Departement van Korporatiewe Bestuur verwelkom. Arné het in 2011 haar BA Regte-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Sy het by BGR Broodryk Kotzé in Wellington in die Maatskappysekretariële afdeling gewerk terwyl sy LL.B deur UNISA studeer het. In 2015 het sy haar LL.B-graad behaal, by Moore Stephens Kaapstad in hulle Korporatiewe Beheerafdeling aangesluit, en besluit om haar studies voort te sit om haar Geoktrooieerde Sekretaris-kwalifikasie deur die Geoktrooieerde Sekretarisse van Suider-Afrika (“CSSA”) te behaal.

In Junie het ons twee nuwe werknemers by ASL verwelkom.

Inge Heath het as boedeladviseur by ons span aangesluit. Inge het haar BA Regte-graad (BA LL.B) aan die Universiteit van Stellenbosch in 2006 behaal en haar klerkskap as kandidaatprokureur by Wilson Morkel Basson Inc in Desember 2008 voltooi. Sy is in Februarie 2009 as prokureur van die Hooggeregshof geregistreer. Inge het omvattende ervaring in die opstel van testamente sowel as die boedeladministrasieproses.

Margo Plaatjies is as rekenmeester by ASL aangestel. Sy het haar B.Com-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Alhoewel sy oorspronklik van Oudtshoorn is, het sy verlief geraak op Stellenbosch en besluit om haar SAIPR-leerlingskap by LDP te voltooi. In 2017 het sy haar raadeksamen geslaag en as professionele rekenmeester gekwalifiseer.

Jacqueline Peach, die nuutste lid van die ASL-span, het in Julie as debiteureklerk begin. Sy het twaalf jaar ondervinding in die motorbedryf as debiteureklerk, waar sy nie net ervaring opgedoen het nie, maar ook geleer het dat spanwerk die geheim vir sukses is. Sy is oorspronklik van Johannesburg, maar haar wortels is nou stewig in Kaapstad gevestig.

Ons vertrou dat hierdie vier hulle voete vinnig in ASL sal vind en ons wens hulle almal die beste toe op hierdie nuwe reis. Ons sien uit na die kennis en ervaring wat hulle na ons span bring.

Trouklokkies

Reinhard Sieberhagen en Lenita van der Merwe het op 5 Junie 2018 in Riebeek Kasteel afgehaak. Lenita en Reinhard se verhouding het by ASL begin terwyl hulle albei leerlingrekenmeesters was. Mag die jare wat voorlê met liefde en vreugde gevul wees!

Nuwe toevoegings tot ASL se “uitgebreide familie”

Ons wens Adrian de Geus, wat op 25 Januarie 2018 ’n pa geword het, geluk. Mag jy en jou vrou, as nuwe ouers, veel vreugde en geluk ervaar met die aankoms van julle babadogter, Ava. Ons wens die nuwe de Geus gesin net die beste toe!