Oor die afgelope paar jaar het Suid-Afrika ‘n verlangsamende ekonomie beleef tot op die punt waar ons tans in ‘n tegniese resessie is met twee kwartale van dalings van die BBP. Die politieke onsekerheid en die afname in die kredietgradering het veroorsaak dat baie na beleggingsgeleenthede in die buiteland kyk, nie net vir beter groei nie, maar ook vir beskerming teen die verswakkende Rand.

Vir beleggings meer as R1 miljoen, sal die finansiële instellings wat die fondse na die buiteland oorplaas, ‘n Buitelandse beleggingstoelae (FIA) belastingklaringsertifikaat (TCC) benodig. Elke persoon het ‘n jaarlikse buitelandse beleggingstoelae van R10 miljoen, wat goedgekeur behoort te word, mits die belastingbetaler se belastingaangeleenthede in orde is en die relevante inligting aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) voorsien is. Dit is ook moontlik om aansoek te doen vir ‘n FIA van meer as R10 miljoen, maar vir diegene wat dit nodig het, word goedkeuring van die Reserwebank vereis.

Dit is nou vir ons moontlik om namens ons kliënte aansoek hiervoor te doen op SAID se “eFiling”-stelsel. Sodra die aansoek ingedien is, maak SAID’n skakel oop vir die ondersteunende dokumente, wat elektronies opgelaai en ingedien moet word.

Die SAID vereis onder meer die volgende ondersteunende dokumente wanneer die FIA-aansoek vir goedkeuring hersien word:

  • Relevante inligting wat die bron van die kapitaal wat belê word demonstreer.
  • Staat van bates en laste vir die vorige drie belastingjare (dit moet alle beleggings, leningsrekeninge en uitkerings van plaaslike en buitelandse maatskappye, trusts, ens. insluit).
  • Relevante inligting vir belastingopgawes van die voorafgaande drie belastingjare (dit behoort renteskedules, KWB-berekeninge, finansiële instrumente, ens. in te sluit).
  • Besonderhede van die finansiële instelling wat handel oor u buitelandse belegging.

Die rede waarom die SAID hierdie dokumente versoek, is om seker te maak dat enige belasting wat aan die fiskus verskuldig is, weens die oorsprong van die fondse wat in die buiteland belê gaan word, vereffen is voordat die fondse na die buiteland oorgedra kan word.

Bogenoemde lys is nie noodwendig volledig nie en die SAID is baie spesifiek betreffende watter inligting verlang word.

As u van plan is om ‘n belegging in die buiteland te maak, raai ons u aan om ons belastingdepartement (tax@asl.co.za) of u Verhoudingsdirekteur te kontak, om vas te stel watter dokumente ons sal benodig om aansoek te doen vir die FIA belastingklaring.